Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 18 AUGUSTUS 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE SIMPOSIUM

AUSTRALIESE AMATEURRADIO VERLOOR TYDELIKE HOË KRAG TOESTEMMING EINDE VAN AUGUSTUS

DIE BHF-VOORTPLANTINGSEISOENE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL RADIOTEGNOLOGIE-IN-AKSIE SIMPOSIUM bespreek nou en wen 'n digitale multimeter

Die RTA kom na Gauteng op 31 Augustus 2013 en sal gehou word by die Innovation Hub, Pretoria. Dit is ‘n baie moderne vergaderplek, maklik bereikbaar vanaf die N1 hoofweg. Neem die WNNR-afrit, die toegangspad is oorkant die WNNR-ingang. Besprekings vir hierdie gebeurtenis is nou oop. Kry al die besonderhede van www.sarl.org.za, kies die Radio-Tegnologie-in-Aksie skakel aan die linkerkant van die tuisblad.

Afgevaardigdes kan een van 5 digitale multimeters in die bywoningstrekking wen aan die einde van die simposium.

Teken 14 September vir die RTA in Durban aan. Besprekings vir die Durbanse RTA sal volgende week oopmaak. Die geleentheid in Kaapstad sal vroeg in Oktober gehou word.

AUSTRALIESE AMATEURRADIO VERLOOR TYDELIKE HOË KRAG TOESTEMMING EINDE VAN AUGUSTUS

Radioamateurs in Australië is in kennis gestel dat die tydelike hoë krag magtiging op Sondag 31 Augustus sal eindig en sal nie hernu word nie. Die Australiese Kommunikasie en Mediaowerheid sê die amateurs in die land is nie behoorlik bewus van RF-blootstellingsvereistes nie.

Op 'n vergadering tussen die WIA en die ACMA op Maandag 5 Augustus, het ACMA die Instituut meegedeel dat die reëlings vir die bemagtiging vir die gebruik van 'n hoër krag nie permanent sal wees nie.

ACMA verduidelik dat sy besluit geneem is na die hersiening van data in 'n evalueringsproses wat in Maart vanjaar begin is. Volgens ACMA dui die evaluering aan dat sommige houers van gevorderde lisensies gebrekkige kennis van hul lisensievoorwaardes het.

Van besondere belang vir ACMA was die kwessies wat verband hou met die nakoming van elektromagnetiese energievereistes en dat dit 'n gebrek aan bewustheid is wat nie beperk is tot die gebruik van hoër krag as 400 Watt wat tans toegelaat word nie.

ACMA het gesê dat die resultate van die evaluering bewys daar 'n behoefteis is om bewustheid onder lisensiehouers van hul lisensie voorwaardes te verhoog, en dat dit nie net beperk moet word tot houers van gevorderde lisensies nie. ACMA het bygevoeg dat hulle daarna uitsien om met die WIA saam te werk om die doel te bereik.

Dit is belangrik om te besef dat die radioamateurs nie hier uitgesonder word nie. Nakoming van elektromagnetiese energievereistes is van toepassing op alle apparaatlisensiehouers, insluitend uitsaai, maritieme dienste en ander. ACMA het ook aangehaal dat die gebrek aan bewustheid van elektromagnetiese energienakoming algemeen onder ander lisensiehouers is.

Om hierdie probleem aan te spreek, en voor te berei vir 'n nuwe benadering tot ACMA volgende jaar, het die instituut begin met die implementering van planne om bewustheid te bevorder van die nodigheid om te voldoen aan die energievereistes vir amateurradiostasies.

LIDMAATSKAP EN KLUBAFFILIASIE

Die volgende klubs het gedurende die afgelope week hulle affiliasie by die SARL hernu:
Hibiscus Coast Amateur Radio Club (ZS5HAC)
Overberg Amateurradioklub (ZS1OAR)
Noord-Wes Amateurradioklub (ZS6RWT)
Rustenburg Amateurradioklub (ZS6RTB)
Wes-Rand Amateurradioklub (ZS6WR)
Sasolburg Amateurradioklub (ZS4SKR)

Tot Vrydag 16 Augustus het 1 255 individuele lede hulle lidmaatskap hernu.

Leon Jerling en Ulrich Reinhard Weiler het aansoek gedoen om luisteraarslidmaatskap.

DIE BHF-VOORTPLANTINGSEISOENE

Ons beweeg nou uit die eerste meteoorspreidingseisoen van die jaar, maar gaan nou die baie lang seisoen van tropogeleiding vir die Suidelike Halfrond binne wat tot ten minste April volgende jaar gaan duur. Die tweede meteoorspreidingseisoen begin in mid-Oktober en eindig aan die begin van Januarie. 'n Kort F2 voortplantingsperiode verskyn van mid-September tot mid-Oktober gedurende die piek van die sonsiklus. Die transekwatoriale seisoen begin gedurende hierdie tydperk en duur tot die einde van November. Ons ondervind 'n sporadiese E-seisoen in Suid-Afrika wat gedurende die maande Desember en Januarie sy piek bereik en deur die tweede transekwatoriale seisoen gevolg word wat aanhou tot die kort F2 voortplantingstyd van middel Maart tot middel April. Voortplanting is die hele jaar moontlik op BHF, UHF en SHF via vliegtuigspreiding en die landwye en die tropiese spreidingmodusse.

NEEM DEEL AAN DIE SARL SE HF GG-KOMPETISIE

Die SARL GG HF kompetisie word op 25 Augustus gehou. Die kompetisie duur van 13:00 tot 16:30 UTC (15:00 18:30 SAT). Die bande wat gebruik kan word is 80, 40 en 20 meter. Hierdie kompetisie is nie net gemik op die individue nie, maar klubs kan ook deelneem. Dit is 'n ideale geleentheid om jou klublede te betrek, maak dit 'n klubgebeurtenis.

Daar is verskeie trofeë wat op die algemene jaarvergadering uitgedeel word aan die wenners van die individuele wedstryde in die onderskeie kategorieë.

Dit is nog nie al nie, daar sal ook 'n gelukkige trekking wees vir elk van die drie kompetisies. Die wenners sal getrek word uit die logstate wat ingedien is, dus al het u selfs min kontakte gemaak, stuur nogtans u logstate in. Dit is al wat nodig is om 'n 2013 ARRL Antennahandboek as prys te wen.

Indien u 'n elektroniese logstaat hou, wat u tans behoort te doen, is dit maklik om dit in Cabrillo- of ADIF-formaat in te dien. 'n Excel sigblad is ook geskik vir diegene wat nie oor 'n logprogram beskik nie. Logs moet teen 12 Augustus ingedien word en gestuur word aan zs4bfn@netactive.co.za.

Indien u sertifikate jaag, of poog om een te word, sal hierdie kompetisies help om u WAZS-sertifikate te verkry. Dus, haal u toerusting uit, stof dit af en deel aan die pret wat kompetisies bied.

PIEKE OP DIE LUG

Baie geluk aan Lucas Swart, ZS6ACT, vir die verkryging van 101 SOTA punte as 'n aktiveerder. Lucas is die eerste radioamateur in Suid-Afrika om meer as 100 SOTA punte as 'n aktiveerder te verwerf.

Baie dankie aan al die radioamateurs wat die SOTA-aktiveerders help om kontakte te maak.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap, SANSA, 'n nuwe opwindende ruimteweerwebtuiste bekend gestel het. Die webtuiste is by http://spaceweather.sansa.org.za beskikbaar en is beslis 'n besoek werd.

Sonaktiwiteit vir die week wat voorlê: Die verwagte sonaktiwiteitsvlak gaan laag bly ten spyte van 'n paar kleinerige sonfakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 69.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. Kort 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes dagligpaaie voorkom.

Besoek gerus http://spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 Augustus – Internasionale vuurtoringnaweek steeds aan die gang.
30 Augustus – Oos-Rand Radiotak AJV om 14:00.
31 Augustus - RTA vir Gauteng in die Innovation Hub, Pretoria.
07 September – Wes-Rand lente snuffelmark om 12:00 by klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vertalings deur Louis de Bruin, ZS5LP, saamgestel en geredigeer deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003